Tuesday, 29 September 2015

Skoolbesoek: Dag 15 - 7 Augustus 2015

Langnaweek!! Alhoewel dit nie so voel nie. My twee lesse vandag lê soos ‘n berg voor my. Ek voel rustig oor my Wiskunde les, maar stres bietjie oor my Ekonomie les vir die graad 10’s. Dit is die klas waaroor ek so gestres het, maar ek hoop maar vir die beste.

Dit voel vir my asof ek glad nie reg is vir die les nie. Ek dink my grootste vrees is dat die kinders my gaan vasvra, maar ek sal maar net eerlik wees en sê dat ek nie seker is nie en dat ek sal gaan seker maak en dan terugkom na hulle toe. Vandag moet ek maar besluit watter lesse ek volgende week wil aanbied.

Ek het besluit ek gaan maar weer vra wanneer die ander klas met Pythagoras gaan begin, sodat ek dan die lesse kan doen. As ek dan nie mag nie, gaan ek dan ‘n ander klas soek. Ek het vir die een onderwyser dankie gesê dat ek kan les aanbied, toe sê sy dit is ongerieflik, maar sy was ook daar waar ons nou is en sy weet ons moet leer. Ek kan eintlik indink oor hoe onderwysers moet voel wanneer studente moet les aanbied in hulle klas, want tot ‘n mate het die onderwyser dan geen beheer oor hoe die les aangebied word nie.

Die volgende periode was ‘n graad 8 Tegnologie klas en die juffrou het huiswerk gemerk. Die een leerder het toe nie haar bladsy in die klas nie en toe sê die juffrou dat dit nie die einde van die wêreld is nie – sy weet mos hoe hard die leerder werk. Vangoggend in ‘n ander klas het ‘n klomp leerders nie huiswerk gedoen nie en die juffrou het vir almal detensie punte gegee en ook strafwerk. Dit is nogal interessant hoe verskil onderwysers se hantering van leerders wat nie huiswerk doen nie. Ek dink wat die belangrikste is, is om konsekwent te straf.

Na pouse was dit ek en my Wiskunde les. Dit het baie beter gegaan vandag! Ek dink ek raak nou al gemaklik met die klas. Die juffrou het gesê ek kan volgende week weer les gee. So ek het nou al drie van my agt Wiskunde lesse klaar. Hopelik kan ek volgende week nog drie doen.

Ek het weer vandag die musiek periode gaan bywoon en dit is nogal lekker om rustig te raak na ‘n Wiskunde les met musiek in my ore. Hulle het vandag’n klomp simfonieë geluister en dit is nogal lekker om hulle almal te kan herken.

Na tweede pouse moes ek en 'n ander proefstudent weer gaan toesig hou het in juffrou Scheepers se klas. Ek was bly dat ek nie alleen was nie, want anders sou ek nie deur my les vir die laaste periode kon deurgaan nie. Ek was heel dag lank bietjie bekommerd gewees oor my Ekonomie les, maar was vir een of ander rede rustig toe my les moes begin het.


Nog net my les agter die rug kry, dan is dit langnaweek.

Skoolbesoek: Dag 14 - 6 Augustus 2015

Alhoewel ek duskant dood van moegheid is, het ek redelik maklik opgestaan. Ek dink dit is nou maar omdat ek op my laaste bietjie battery krag hardloop. Ek het lekker hokkie oefening vanmiddag, so ek sien vreeslik baie uit daarna. Dink ek gaan uitmekaar uit val as ek gaan hardloop, maar darem gaan ek oefening inkry.

Ek gee vandag weer les vir die graad 8 Wiskunde klas en ek voel baie rustig daaroor – dalk te rustig. Dalk is dit omdat ek net werk gaan merk met hulle. Na vandag is dit nog net 14 lesse oor om te doen. I can do this!

Maandae, Dinsdae en Donderdae is altyd vir my die ergste. Dit is die dae wat pouse eers 11:07 is… Ek kan skaars uithou sonder kos tot eerste periode toe!

Die res van my dag was maar rustig gewees. Na die tweede pouse het ek en 'n ander proefstudent weer vir die admin tannie gehelp met liasseer werk en die laaste periode het ons ‘n drama les gaan bywoon. Dit was nogal lekker om met die onderwyseres te kan praat oor die onderwys. Sy sê dat onderwys niks is soos wat ons nou leer nie, en sy voel mens leer eers wanneer jy jou eie klasse het. Ek stem 100% saam met haar, want mens kan nie altyd rustig ‘n les aanbied wanneer iemand vir jou punte gee nie.


Ek het vanmiddag weer die hokkie oefening bygewoon en die afrigter het gesê ons kan volgende week die span vat vir oefening. Dit klink nogal na pret!! Bietjie afleiding vir ons. Die res van die dag is dit maar ek en lesse uitwerk.

Skoolbesoek: Dag 13 - 5 Augustus 2015

Dit is ‘n nuwe dag, en saam met dit kom net positiewe denke. Ek het besluit vandag gaan ek vat soos dit kom. My dag het weereens 07:00 al begin, sodat ek die fluit ensemble oefening kon bywoon. Dit was baie lekker om te sien hoe mooi die twee stukke nou bymekaar kom. Daar is nogsteeds van die leerders wat nie hulle stukke ken nie, maar daar is nog presies 10 dae oor voordat hulle moet optree.
Ek het darem goeie nuus gekry! Juffrou K* het vir my gesê dat ek die hele hoofstuk van Pythagoras se stelling met haar klas kan behandel. Dit beteken dat dit omtrent drie lesse gaan wees. Nog beter is dat die ander onderwyseres ook gesê het ek kan van daardie lesse vir haar klas ook aanbied. Gevolglik gaan dit alklaar omtrent vier of vyf van my lesse wees. Nou voel ek baie rustiger oor my Wiskunde lesse.

Ek het uiteindelik my onderwerp vir my Ekonomie les vir die graad 10’s gekry. Ek sou die les oorspronklik more aangebied het, maar die onderwyser is nie more daar nie, so dus gaan ek die les dan aanskuif na Vrydag toe. Dink ek gaan dan more weer vir die graad 8’s ‘n les gee en dan sommer hulle assessering met hulle deurgaan en dan hulle huiswerk merk of aangaan waar hulle vandag opgehou het.

Ons het vandag ons eerste lekker ervaring as onderwysers gehad. Dit is hierdie week CSV week, so die kringleiers het sop en brood vir die personeelkamer gebring. Ek moet sê vandag is ek bly ek is ’n onderwyseres.

Ek het vandag weer ingesit in die Lewenswetenskappe klas. Die onderwyser het ‘n klomp hersieningsvrae gevra wat die leerders mondelings moes beantwoord het. Ek dink dit is ‘n baie goeie manier vir die leerders om te hersien en te weet wat hulle weet en nie weet nie. Dit is veral lekker wanneer jy kan sien die onderwyser het ‘n baie goeie vakkennis. Dit maak dat die leerders volle vertroue in die onderwyser plaas om vir hulle klas te gee. Die onderwyser doen ook baie moeite om seker te maak dat die klas interessant bly. Ek wens ek kan heeldag lank in die Lewenswetenskappe klas gesit het. Ek geniet die onderwyser se lesse vreeslik baie. Hy het ook vir my gesê dat hy baie lief is vir sy vak, en ek voel dit is ‘n baie belangrike vereiste vir ‘n goeie onderwyser.

Die volgende klas was die klas by wie ek gister les voor gegee het. Hulle moes hulle huiswerk aktiwiteite ingegee het, sodat ek dit kan merk. Uit ‘n klas van 28 leerders, het slegs 24 leerders dit ingegee waarvan 2 onvolledig was. Dit is nogal frustrerend as mens heeltyd vir die leerders iets sê en dan doen hulle nogsteeds nie wat jy vir hulle vra nie. Ten minste sien ek hulle more weer vir ‘n les, so dan kan ek hulle behoorlik vasvat oor hulle foute. So more is dit my tweede les van sestien… Nog baie om te gaan!


Na skool het ek en M* weer gesit vir ekstra klasse. Ons het net deur die algebra vraestel gegaan, aangesien haar grootste probleem daar lê. Hulle skryf more ‘n tutoriaaltoets so ek hoop regtigwaar sy leer haar meetkunde reëls.

Skoolbesoek: Dag 12 - 4 Augustus 2015

Okay goed, so vandag is my eerste les vir punte en ek weet nie of ek moet sterk staan en of ek moet weghardloop nie. Vanoggend het ek skool toe gekom en moes toe vinnig die aktiwiteite gaan kopieër het. Ek het baie paniekerig geraak toe ek sien dat daar onderwysers is wat ook die masjien wou gebruik het. Ek het nie gedink dat daar iemand was nie, maar nou ja.

Ek het gisteraand gelê en dink dat ek van die ander graad 8 Wiskunde onderwysers gaan vra of ek nie my les kan doen vir hulle klas nie. Maar dit het ook nie gewerk nie. Dit is frustrerend, maar ek verstaan hulle moet deur hulle werk kom. Ek is baie dankbaar dat hulle bereid is om toe te laat dat ons lesse kan gee in hulle klasse.

Dit is toetsdag vandag so ek het ‘n uur in die registerklas gespandeer. Darem kon ek deur my les gegaan het, aangesien ek nie dit gisteraand gedoen het nie.

Vandag is weer een van daai dae. Ek het lus vir niks vandag nie. Nie eens lus om met mense te werk nie, maar sal my kop probeer hoog hou vandag. Ek weet eerlikwaar nie hoe onderwysers dit regkry om nogsteeds met alle positiewe denke en houdings die dae deur te gaan nie – of dalk verstaan ek nou dat dit dalk net ‘n front is.

Ek was in die tweede periode in ‘n graad 8 Wiskunde klas. Die juffrou het die memo uitgedeel en toe kyk ek maar vinnig daar deur om te kyk of ek die kinders reg gehelp het. Ek het ‘n fout op die memo gesien en toe besef hoe vinnig so iets gebeur. Hoeveel onderwysers kry nie net die memo en merk hulle klas se goed nie? Hoeveel onderwysers vat die tyd om deur die memo te werk? Sulke klein foutjies kan ‘n leerder onnodig benadeel. Dus moet ek ‘n punt daarvan maak om elke memo nie net as ‘n gegewe te aanvaar nie.

Die res van die dag is maar rustig wat klasse betref. In die Ekonomie klas was daar ‘n video gekyk aangesien die klas ver voor die ander een is. Dit is die klas vir wie ek les gegee het laas week. Ek is bietjie bekommerd oor wat die klas vir die onderwyseres gesê het oor daardie lesse. Dit is vir my baie sleg dat die twee lesse van laas week nie tel nie. 

In die vyfde periode moes drie van ons proefstudente in die personeelkamer bymekaarkom om te bepaal wanneer ons ons krit lesse wil gee. Darem het ons nou amper ons evalueringsdae bevestig. Altwee is darem eers oor ‘n maand so sal verseker reg wees vir die ding – of so hoop ek!

Ek was bevoorreg gewees om vandag twee periodes te kon gebruik vir my les. Dit het my darem genoeg tyd gegee om een van my assesseringsaktiwiteite ook uit te deel. Dit beteken dat ek more 28 aktiwiteite gaan kry om te merk en dan nog my Ekonomie les ook beplan. Hierdie week gaan nog rof raak, veral omdat ons elke middag eers 17:00 by die huis kom. Ek het darem 75% vir my les gekry waaroor ek baie bly is. Ek weet ek het nog baie om te leer. Ek stres baie oor die Ekonomie lesse – wat as hulle my vasvra? 

Ek was vandag by die toneel se oefening. Alhoewel hulle net sekere dele geoefen het, lyk dit nogal asof dit baie goed behoort te wees. Dit is net ‘amazing’ om te sien hoe hierdie jong kinders hulle personas sommer net so kan verander.

Maar nou ja, laat ek maar memorandums gaan uitwerk…

Skoolbesoek: Dag 11 - 3 Augustus 2015

Okay goed, na alles wat gister skeef geloop het, het ek gedink niks kan meer skeef loop nie. Nooit weer gaan ek dit sê nie, want alles was afdraende nog voordat ek my oë oopgemaak vanoggend. Ek het gisteraand heel pligsgetrou my wekker gestel vir 05:50, of so het ek gedink. Min wetende dat ek my wekker gestel het vir 06:50. 06:15 het my tannie my wakker gemaak en in my haas het ek my oë so gevryf dat my oog geïrriteerd was. 5 Minute voor ons moet ry, kon ek nogsteeds nie my grimering opgesit het nie, aangesien daar ‘n waterval uit my een oog geloop het. So kom ons sê net my week kon nie slegter begin het nie.

Hopelik gaan dit beter wanneer ek my lesse moet aanbied hierdie week! Ek het darem iets om na uit te sien. Die fluit juffrou het my gevra om vandag en more se tweede pouses ‘n paar fluite van die fluit ensemble te vat en hulle stukke deur werk saam met hulle. Ek hoop my bladlees is nog op standaard! Op die oomblik moet ek net hoop my vet oog hou nog.

Ek het gisteraand toe weer vir M* gesien. Ek het gehoop dat sy verder sou probeer werk het aan haar tutoriaal, maar sy het nie aangegaan van waar ons gestop het laasweek nie. Ons het afgeskop met die somme waar hulle vergelykings moes oplos. Aangesien ek baie graad 8 Wiskunde klasse waarneem, weet ek dat die kinders daarde spesifieke somme tot vervelens in die klas uitwerk. Wat my bekommer is dat sy geen idee het oor hoe om die somme te benader nie. Dit wil vir my sê dat sy totaal en al verdwyn in daardie klas. Wens regtig ek kan meer tyd met haar spandeer.

Ek het beplan om more ‘n les vir twee graad 8 klasse te doen, sodat ek net een les hoef voor te berei. Ek kan darem die een les bevestig, maar die ander juffrou soek ‘n ander tema, so gevolglik sal ek more middag nog ‘n les moet voorberei. Darem sal ek later in die maand die lesse kan herhaal.

Aangesien die saalperiode langer was as wat beplan was, is die res van die dag se periodes bietjie omver gegooi. Na pouse het my en een van die ander proefstudente se periodes gebots, so gevolglik moes ek waarneem terwyl sy klasgee. Dink dit is ‘n goeie idee gewees, aangesien ek vir die meeste van die leerders ook moet klasgee in Ekonomie. Ek sien nou dat die klante is maar oral dieselfde, maak nie saak wie die klas aanbied nie.

Tweede pouse was ek weer terug waar ek moet wees, naamlik in die musiekklas. Dit is snaaks hoe vinnig jou musiekkennis weer terugkom, sodra jy weer dit voor jou het. Ek dink nie hierdie leerders besef hoe bevoorreg hulle is om musiek te kan doen nie. Dit was vir soveel jaar deel van my lewe gewees en ewe skielik was daar net nie meer tyd daarvoor nie. Dit beteken nogal baie vir my dat die juffrou my vertrou het met die oefening van die stukke.


Ek weet nie of ek uitsien na more se les en of ek bang is nie. Hopelik tref die kreatiwiteit my voor vanaand, sodat ek een ‘awesome’ les kan beplan.

Monday, 28 September 2015

Skoolbesoek: Dag 10 - 31 Julie 2015

En uiteindelik breek die naweek aan. Dit is net sewe periodes wat tussen my en naweek lê. Ek het in my register klas besef dit is definitief nie net ek wat uitgesien het na naweek nie. My register onderwyseres was tog so bly om by die Vrydag blokkie te teken op ons dra-rapporte.

Die volgende klas wat ek bygewoon het, is die klas by wie ek my ander lesse gaan by aanbied. Tussen die twee klasse by wie ek my lesse gaan aanbied, gaan ek genoegsame diverse metodes leer en kan sien wat werk en wat doen nie. Die les het hoofsaaklik bestaan uit die merk van die huiswerk. Ek dink die onderwyseres het wel beplan om aan te gaan met die nuwe werk, maar toe ‘n paar leerders gesê het dat hulle nie die huiswerk verstaan het nie, het sy ook haar hele lesplan verander om eers seker te maak hulle verstaan. Dit is vir my ‘n baie belangrike eienskap wat ‘n onderwyser moet hê – die vermoë om op sy of haar voete te kan dink en aanpas by die benodighede van die leerders.

Ek het gisteraand besluit om weer ‘n powerpoint te maak met die inhoud van my les vir die graad 11's. Wat vir my baie oulik was, was toe een van van die leerders dankie gesê het vir die moeite wat ek in die afgelope twee lesse ingesit het. Dit is sulke dingetjies wat alles die moeite werd maak. Ek het dit regtig baie geniet om vir die graad 11’s klas te gee. Dit is baie lekker om saam met die klas te gesels oor die werk in plaas van om slegs vir hulle inhoud voor te lees.

Die volgende klas het ek vir die eerste keer by ‘n Wiskunde graad 11 klas ingesit. Dit was vir my baie vreemd om in die klas in te stap en nie te weet wat daar aangaan nie. Die klas het sirkel meetkunde behandel en hierdie afdeling was uit ons skoolkurrikulum uit gehaal. Dit is nogal sleg, want ek gaan hierdie afdeling volgende jaar moet aanbied, so ek gaan moet selfstudie laat ek hop.

Die vierde periode het ons proefstudente bietjie met die een onderwyseres gesels en sy het toe vir ons baie goeie wenke gegee oor die onderwys en oor hoe om ons eerste jaar in die onderwys te oorleef. Ek het baie respek vir daardie juffrou, aangesien sy my op 7-jarige ouderdom op die verhoog gekry het.

Ek het toe by een van my wiskunde onderwyseresse die ander graad 11 klas waargeneem. Sy gee my toe die goeie nuus dat die klas vandag met sirkel meetkunde gaan begin. Dit beteken dus dat ek bietjie hulp gaan hê om dit op te swot. Ongelukkig gaan ek nie al die periodes kan bywoon nie, maar dit sal wel voordelig wees om so ver as moontlik te probeer. Dit was baie lekker om te weet dat die onderwyseres ook van haar kant af my inlig oor wat die inhoud behels. Sy het selfs vir my ‘n handboek geleen. Dat een mens so opgewonde kan raak oor ‘n handboek.

Die oomblik wat ek in die volgende Wiskunde klas ingestap het, het die leerders my gesmeek om vir hulle ‘n les aan te bied. Dit was vir my baie vreemd gewees, maar toe sê die een leerder dat proefstudente altyd moeite doen met lesse en dat die leerders dan wil luister. Dit is eintlik vir my nogal ‘n ‘eye opener’ gewees, want ek het besef dat daar onderwysers is wat nie werklik meer moeite doen nie. Dit is die minste wat ons kan doen en dan te verwag dat leerders vir 50 minute moet konsentreer. Dit was vir my baie goed dat die onderwyseres bydraes begin vra het van die leerders wat nie verstaan het nie. Die leerders voel ook nie skaam om te sê hulle verstaan nie die werk nie. Gevolglik wil dit vir my sê dat daar ‘n geweldige positiewe leerruimte geskep is vir die leerders deur die onderwyseres.


Wat vir my geweldig skokkend was om te hoor, is die feit dat die een seun se ouers weier om te betaal vir ekstra klasse. Daar is ouers wat nie sal skroom om te kla oor hulle kinders se swak punte nie, maar wanneer die kind wil gaan vir ekstra klasse en die ouers wil nie betaal nie, is dit hartseer. Sommige van die leerders benodig individuele aandag en die onderwyser het net nie altyd die tyd tot hulle beskikking daarvoor nie.

Skoolbesoek: Dag 9 - 30 Julie 2015

Gisteraand het ek tot laat gesit om seker te maak my les is reg vir vandag. Ek het besluit om moeite te doen deur om ‘n powerpoint te maak, want ek weet dat die leerders die les se verloop sal bespreek met die onderwyseres.

Die volgende les wat ek bygewoon het, was die graad 8 Wiskunde klas vir wie ek my krit les wil doen. Van die begin af was ek mal oor die onderwyseres gewees, aangesien haar metode van klasgee soortgelyk is aan hoe ek eendag wil klas gee. Ek hou van die idee dat sy nie bang is om tyd te spandeer aan om vir die leerders te verduidelik nie. Dit mag dalk nou tyd vat, maar in die toekoms gaan die leerders se fondasie ten volle vasgelê wees en dan hoef die toekomstige onderwysers wat met hulle te doen kry nie so te sukkel met die ‘basics’ van Wiskunde nie.

Na pouse het die tyd aangebreek dat ek my les moet doen. Ek het besef dat ek baie rustiger is in vergelyking met hoe ek voor glaskas gevoel het. Ek het seker gemaak my powerpoint is op die skerm getoon toe die leerders in die klas ingestap het. My les het afgeskop met die merk van die vorige dag se huiswerk. Ek het besluit om die memo ook op my powerpoint te sit, sodat leerders die antwoorde, nadat dit bespreek is, af te skryf. Ek het regtigwaar die klas geniet!

Ek het na my les weer ‘n musiekles bygewoon. Alhoewel dit dieselfde les as vir die ander groep was, het ek duidelik gesien dat hierdie groep die sterker een is. Dalk is dit omdat hulle ‘n kleiner groep is, ek weet nie.

Ek en M* het ooreengekom om van 16:00 af in die biblioteek te gaan sit. Aangesien ons nie verder gevorder het gister nie, was dit noodsaaklik dat ons weer vandag bymekaar moes kom. Ek het toe besluit dat ek van 15:00 tot 16:00 die hokkie oefening gaan bywoon. Gedurende die oefening het sy na my toe gekom om te sê dat haar oefening geskuif het na 16:00 toe. Gevolglik kan ek en sy toe nie ons les inwerk nie. 

Die res van die dag gaan dit maar weer ek en die graad 11 Ekonomie boeke wees...