Monday, 28 September 2015

Skoolbesoek: Dag 10 - 31 Julie 2015

En uiteindelik breek die naweek aan. Dit is net sewe periodes wat tussen my en naweek lê. Ek het in my register klas besef dit is definitief nie net ek wat uitgesien het na naweek nie. My register onderwyseres was tog so bly om by die Vrydag blokkie te teken op ons dra-rapporte.

Die volgende klas wat ek bygewoon het, is die klas by wie ek my ander lesse gaan by aanbied. Tussen die twee klasse by wie ek my lesse gaan aanbied, gaan ek genoegsame diverse metodes leer en kan sien wat werk en wat doen nie. Die les het hoofsaaklik bestaan uit die merk van die huiswerk. Ek dink die onderwyseres het wel beplan om aan te gaan met die nuwe werk, maar toe ‘n paar leerders gesê het dat hulle nie die huiswerk verstaan het nie, het sy ook haar hele lesplan verander om eers seker te maak hulle verstaan. Dit is vir my ‘n baie belangrike eienskap wat ‘n onderwyser moet hê – die vermoë om op sy of haar voete te kan dink en aanpas by die benodighede van die leerders.

Ek het gisteraand besluit om weer ‘n powerpoint te maak met die inhoud van my les vir die graad 11's. Wat vir my baie oulik was, was toe een van van die leerders dankie gesê het vir die moeite wat ek in die afgelope twee lesse ingesit het. Dit is sulke dingetjies wat alles die moeite werd maak. Ek het dit regtig baie geniet om vir die graad 11’s klas te gee. Dit is baie lekker om saam met die klas te gesels oor die werk in plaas van om slegs vir hulle inhoud voor te lees.

Die volgende klas het ek vir die eerste keer by ‘n Wiskunde graad 11 klas ingesit. Dit was vir my baie vreemd om in die klas in te stap en nie te weet wat daar aangaan nie. Die klas het sirkel meetkunde behandel en hierdie afdeling was uit ons skoolkurrikulum uit gehaal. Dit is nogal sleg, want ek gaan hierdie afdeling volgende jaar moet aanbied, so ek gaan moet selfstudie laat ek hop.

Die vierde periode het ons proefstudente bietjie met die een onderwyseres gesels en sy het toe vir ons baie goeie wenke gegee oor die onderwys en oor hoe om ons eerste jaar in die onderwys te oorleef. Ek het baie respek vir daardie juffrou, aangesien sy my op 7-jarige ouderdom op die verhoog gekry het.

Ek het toe by een van my wiskunde onderwyseresse die ander graad 11 klas waargeneem. Sy gee my toe die goeie nuus dat die klas vandag met sirkel meetkunde gaan begin. Dit beteken dus dat ek bietjie hulp gaan hê om dit op te swot. Ongelukkig gaan ek nie al die periodes kan bywoon nie, maar dit sal wel voordelig wees om so ver as moontlik te probeer. Dit was baie lekker om te weet dat die onderwyseres ook van haar kant af my inlig oor wat die inhoud behels. Sy het selfs vir my ‘n handboek geleen. Dat een mens so opgewonde kan raak oor ‘n handboek.

Die oomblik wat ek in die volgende Wiskunde klas ingestap het, het die leerders my gesmeek om vir hulle ‘n les aan te bied. Dit was vir my baie vreemd gewees, maar toe sê die een leerder dat proefstudente altyd moeite doen met lesse en dat die leerders dan wil luister. Dit is eintlik vir my nogal ‘n ‘eye opener’ gewees, want ek het besef dat daar onderwysers is wat nie werklik meer moeite doen nie. Dit is die minste wat ons kan doen en dan te verwag dat leerders vir 50 minute moet konsentreer. Dit was vir my baie goed dat die onderwyseres bydraes begin vra het van die leerders wat nie verstaan het nie. Die leerders voel ook nie skaam om te sê hulle verstaan nie die werk nie. Gevolglik wil dit vir my sê dat daar ‘n geweldige positiewe leerruimte geskep is vir die leerders deur die onderwyseres.


Wat vir my geweldig skokkend was om te hoor, is die feit dat die een seun se ouers weier om te betaal vir ekstra klasse. Daar is ouers wat nie sal skroom om te kla oor hulle kinders se swak punte nie, maar wanneer die kind wil gaan vir ekstra klasse en die ouers wil nie betaal nie, is dit hartseer. Sommige van die leerders benodig individuele aandag en die onderwyser het net nie altyd die tyd tot hulle beskikking daarvoor nie.

No comments:

Post a Comment