Tuesday, 29 September 2015

Skoolbesoek: Dag 13 - 5 Augustus 2015

Dit is ‘n nuwe dag, en saam met dit kom net positiewe denke. Ek het besluit vandag gaan ek vat soos dit kom. My dag het weereens 07:00 al begin, sodat ek die fluit ensemble oefening kon bywoon. Dit was baie lekker om te sien hoe mooi die twee stukke nou bymekaar kom. Daar is nogsteeds van die leerders wat nie hulle stukke ken nie, maar daar is nog presies 10 dae oor voordat hulle moet optree.
Ek het darem goeie nuus gekry! Juffrou K* het vir my gesê dat ek die hele hoofstuk van Pythagoras se stelling met haar klas kan behandel. Dit beteken dat dit omtrent drie lesse gaan wees. Nog beter is dat die ander onderwyseres ook gesê het ek kan van daardie lesse vir haar klas ook aanbied. Gevolglik gaan dit alklaar omtrent vier of vyf van my lesse wees. Nou voel ek baie rustiger oor my Wiskunde lesse.

Ek het uiteindelik my onderwerp vir my Ekonomie les vir die graad 10’s gekry. Ek sou die les oorspronklik more aangebied het, maar die onderwyser is nie more daar nie, so dus gaan ek die les dan aanskuif na Vrydag toe. Dink ek gaan dan more weer vir die graad 8’s ‘n les gee en dan sommer hulle assessering met hulle deurgaan en dan hulle huiswerk merk of aangaan waar hulle vandag opgehou het.

Ons het vandag ons eerste lekker ervaring as onderwysers gehad. Dit is hierdie week CSV week, so die kringleiers het sop en brood vir die personeelkamer gebring. Ek moet sê vandag is ek bly ek is ’n onderwyseres.

Ek het vandag weer ingesit in die Lewenswetenskappe klas. Die onderwyser het ‘n klomp hersieningsvrae gevra wat die leerders mondelings moes beantwoord het. Ek dink dit is ‘n baie goeie manier vir die leerders om te hersien en te weet wat hulle weet en nie weet nie. Dit is veral lekker wanneer jy kan sien die onderwyser het ‘n baie goeie vakkennis. Dit maak dat die leerders volle vertroue in die onderwyser plaas om vir hulle klas te gee. Die onderwyser doen ook baie moeite om seker te maak dat die klas interessant bly. Ek wens ek kan heeldag lank in die Lewenswetenskappe klas gesit het. Ek geniet die onderwyser se lesse vreeslik baie. Hy het ook vir my gesê dat hy baie lief is vir sy vak, en ek voel dit is ‘n baie belangrike vereiste vir ‘n goeie onderwyser.

Die volgende klas was die klas by wie ek gister les voor gegee het. Hulle moes hulle huiswerk aktiwiteite ingegee het, sodat ek dit kan merk. Uit ‘n klas van 28 leerders, het slegs 24 leerders dit ingegee waarvan 2 onvolledig was. Dit is nogal frustrerend as mens heeltyd vir die leerders iets sê en dan doen hulle nogsteeds nie wat jy vir hulle vra nie. Ten minste sien ek hulle more weer vir ‘n les, so dan kan ek hulle behoorlik vasvat oor hulle foute. So more is dit my tweede les van sestien… Nog baie om te gaan!


Na skool het ek en M* weer gesit vir ekstra klasse. Ons het net deur die algebra vraestel gegaan, aangesien haar grootste probleem daar lê. Hulle skryf more ‘n tutoriaaltoets so ek hoop regtigwaar sy leer haar meetkunde reëls.

No comments:

Post a Comment