Okay goed, na
alles wat gister skeef geloop het, het ek gedink niks kan meer skeef loop nie.
Nooit weer gaan ek dit sê nie, want alles was afdraende nog voordat ek my oë
oopgemaak vanoggend. Ek het gisteraand heel pligsgetrou my wekker gestel vir
05:50, of so het ek gedink. Min wetende dat ek my wekker gestel het vir 06:50.
06:15 het my tannie my wakker gemaak en in my haas het ek my oë so gevryf dat
my oog geïrriteerd was. 5 Minute voor ons moet ry, kon ek nogsteeds nie my
grimering opgesit het nie, aangesien daar ‘n waterval uit my een oog geloop
het. So kom ons sê net my week kon nie slegter begin het nie.
Hopelik gaan dit
beter wanneer ek my lesse moet aanbied hierdie week! Ek het darem iets om na
uit te sien. Die fluit juffrou het my gevra om vandag en more se tweede pouses
‘n paar fluite van die fluit ensemble te vat en hulle stukke deur werk saam met
hulle. Ek hoop my bladlees is nog op standaard! Op die oomblik moet ek net hoop
my vet oog hou nog.
Ek het
gisteraand toe weer vir M* gesien. Ek het gehoop dat sy verder sou probeer
werk het aan haar tutoriaal, maar sy het nie aangegaan van waar ons gestop het
laasweek nie. Ons het afgeskop met die somme waar hulle vergelykings moes
oplos. Aangesien ek baie graad 8 Wiskunde klasse waarneem, weet ek dat die
kinders daarde spesifieke somme tot vervelens in die klas uitwerk. Wat my
bekommer is dat sy geen idee het oor hoe om die somme te benader nie. Dit wil
vir my sê dat sy totaal en al verdwyn in daardie klas. Wens regtig ek kan meer
tyd met haar spandeer.
Ek het beplan om
more ‘n les vir twee graad 8 klasse te doen, sodat ek net een les hoef
voor te berei. Ek kan darem die een les bevestig, maar die ander juffrou soek
‘n ander tema, so gevolglik sal ek more middag nog ‘n les moet voorberei. Darem
sal ek later in die maand die lesse kan herhaal.
Aangesien die
saalperiode langer was as wat beplan was, is die res van die dag se periodes
bietjie omver gegooi. Na pouse het my en een van die ander proefstudente se
periodes gebots, so gevolglik moes ek waarneem terwyl sy klasgee. Dink dit is
‘n goeie idee gewees, aangesien ek vir die meeste van die leerders ook moet
klasgee in Ekonomie. Ek sien nou dat die klante is maar oral dieselfde, maak
nie saak wie die klas aanbied nie.
Tweede pouse was
ek weer terug waar ek moet wees, naamlik in die musiekklas. Dit is snaaks hoe
vinnig jou musiekkennis weer terugkom, sodra jy weer dit voor jou het. Ek dink
nie hierdie leerders besef hoe bevoorreg hulle is om musiek te kan doen nie.
Dit was vir soveel jaar deel van my lewe gewees en ewe skielik was daar net nie
meer tyd daarvoor nie. Dit beteken nogal baie vir my dat die juffrou my vertrou
het met die oefening van die stukke.
Ek weet nie of
ek uitsien na more se les en of ek bang is nie. Hopelik tref die kreatiwiteit
my voor vanaand, sodat ek een ‘awesome’ les kan beplan.
No comments:
Post a Comment