Monday, 28 September 2015

Skoolbesoek: Dag 3 - 22 Julie 2015

Dag 3 het baie beter gegaan, alhoewel dit self met nog nuwe uitdagings gekom het. 

Die dag het sommer afgeskop met twee periodes Wiskunde waartydens die klas hulle huiswerk gemerk het. Ek self het vandag weereens my kennis opgeskerp toe die juffrou hulle gevra het oor hoekom die binnehoeke van ‘n vierkant gelyk is aan 360 grade. Ek het oorspronklik nie gedink aan die feit dat dit uit twee driehoeke bestaan nie, en interessant genoeg het nie een van die leerders ook daaraan gedink nie. 

Wat vir my baie opvallend was, was die verskillende onderrigmetodes wat die onderwysers gebruik om hulle vakke oor te dra. Al is dit hoe verskillend, blyk dit asof elke metode perfek werk.

Ek was ook vir twee periodes in die diepkant ingegooi toe die een onderwyseres my vra om in haar klasse toesig te hou, aangesien sy ander verpligtinge gehad het. Dit was nogal intimiderend om voor daardie klas te moet staan en te weet dat dit van my afhang oor of die klas in toom gehou gaan word of nie. Ek het veral met die een klas baie goed oor die weg gekom, veral die feit dat ek hulle met hulle Wiskunde opdrag kon gehelp het. Dit is ‘n verligting om te kan sê dat ek hierdie spesifieke klas sal gebruik vir my Wiskunde les wat deur die dosent geëvalueer gaan word. Die feit dat ek van die begin af so ‘n goeie verhouding met die klas kan vorm gaan help met tweerigting kommunikasie tydens my les.


Daar is vir ons gesê om nie te vriendelik te wees met die leerders nie, want dan loop hulle oor jou en het geen respek vir jou nie, maar hulle het ook gesê ons moet onsself wees. En ek kan nie sonder ‘n glimlag iemand groet nie, so ek is dalk te vriendelik, maar tog glo ek die leerders waardeer dit meer as ‘n onderwyser wat ontoeganklik vir die leerders is. 

No comments:

Post a Comment