Monday, 28 September 2015

Skoolbesoek: Dag 7 - 28 Julie 2015

Dit is dag 7 en ek sukkel steeds om in die oggend op te staan. Snaaks genoeg kom ek nog uit die bed uit op. Ek het in my register periode vir M* ontmoet. Sy is die graad 8 meisie wat my onderwerp van studie gaan wees vir die volgende paar maande. Ek sien geweldig uit om more met haar te begin werk en te sien hoe sy Wiskunde hanteer.

Dit is vir my lekker dat ons proefstudente tussen mekaar kan gesels oor die verskillende onderwysers. Ons praat ook oor watter onderwysers die ander dink ons sal moet bywoon. Een van ons het genoem dat die een Wiskunde onderwyser bietjie anders klasgee as wat ons geleer word. Ek het gaan sit in die klas om self te besluit. Wat ek toe wel gesien het, is dat die onderwyser geweldig klein skryf op die bord. Ek is geneig om presies dieselfde te doen, so ek sal moet seker maak in die toekoms dat ek let op die grootte van my skrif op die bord. Ons dosent het vir ons geforseer om vir die leerders sielkundige spasie te gee. Ek weet dat mens nie heel periode kan wag vir antwoorde nie, maar die onderwyser is geneig om onmiddelik sy eie vrae te beantwoord as hy dit gevra het.

Ek het toe my volgende klas gevind vir wie ek lesse wil aanbied. Die leerders het vooraf vir my gesê dat die een onderwyseres die beste een in die skool is. Al is sy jonk en vriendelik, respekteer die leerders haar nogsteeds en weet hulle wanneer hulle moet ernstig raak. Dit is werklik hoe ek eendag as onderwyseres gesien wil word. Dit is baie lekker om te weet dat ek as jong onderwyseres nie sal hoef te skree en gil om die leerders onder beheer te kry nie.

Wat vir my nogal goed is, is die feit dat ek by twee totaal en al verskillende onderwysers gaan klas gee. Dit gaan maak dat ek hulle strategieë kan gebruik, die beter dele meng, bietjie van my eie stem insit, en dan leer by die beste. Ek wil nie eendag namens my leerders dink nie, ek wil hulle forseer om self met probleme te stoei. As ons heeltyd namens hulle gaan dink, sal hulle nooit op hulle eie probleme kan oplos nie.


Ek het heeldag al uitgesien daarna om vanaand bietjie die orkesoefening by te woon. In graad 7 was ek getoets deur die musiek juffrou om te kyk of ek in staat sal wees om te kan fluit speel. Ek het hoofsaaklik begin met dwarsfluit om sodoende gedurende my hoërskool loopbaan vir hierdie skool se blaasorkes te speel. Die musiek juffrou kom gesels toe gedurende hulle breuk met my en sê my toe dat ek volgende week bietjie kan saamspeel met die orkes. Dit was die beste nuus wat ek kon kry! Musiek is deel van my lewe, en om dit nou deel te kan maak van die bou van my loopbaan is net nog beter. 

No comments:

Post a Comment