Monday, 28 September 2015

Skoolbesoek: Dag 8 - 29 Julie 2015

Vanoggend het sommer vroeg afgeskop aangesien die fluit ensemble vanoggend 07:00 begin oefen het. Ek moet sê die skool se musiek is baie goed – wanneer die kinders hulle stukke ken, by gesê. Die oefening het baie goed begin, totdat die kinders lui begin raak het en dit duidelik begin raak het dat sommige van hulle glad nie weet wat hulle moet speel nie. Dit was nogal ‘n uitdaging vir hulle om die hoë note geondersteun te kry. Vir my wat ‘n fluitspeler is, is dit nogal snaaks dat hulle nie besef dat hulle postuur bydra daartoe nie. Letterlik die hele groep lê teen die ruglening met hulle fluite amper parallel met hulle liggame, in plaas van reghoekig.

Ek het ook opgelet hoe min die motivering onder die leerders is. Hulle speel binnekort Eisteddfod en dit lyk nie eens of hulle omgee nie. Ek het besluit om toestemming te vra om vir hulle aan te spreek oor hulle postuur. Die juffrou was baie bly dat ek iets gesê het, want sy is al moeg om hulle heeltyd aan te spreek.

Die oomblik wat ek teruggekom het in die personeelkamer, het die graad 11 ekonomie onderwyseres my kom vra of ek more en Vrydag vir haar graad 11’s sal klasgee. Ek was bietjie skrikkerig, maar het toe besluit om die klas vandag waar te neem om te sien hoe min of meer daar vir hulle klas gegee word. Ek het finaal besluit dat ek my evalueringsles vir die graad 11 ekonomie klas gaan doen, aangesien die leerders my geweldig goed gehanteer het. Daar was genoegsame twee-rigting kommunikasie om die klasgesprek aan die gang te hou.

Ek het besluit om ‘n paar van my periodes vol te maak met musiek periodes. Ek het baie uitgesien daarna, omdat ek weer bietjie kan opskerp op my musiekteorie kennis. Gelukkig kan ek die afdeling wat behandel was, goed onthou, want ek moes toe ‘n meisie help wat afwesig was.

Die volgende klas wat ek bygewoon het, was graad 11 Wiskunde by ‘n baie jong onderwyseres. Ek hoop eerlikwaar my klasse is nie so onrustig soos daardie een nie. Die juffrou moet tydens hulle dubbelperiodes die klas skuif na ‘n ander lokaal toe om sodoende te kry dat hulle kan werk.


Ek het na skool vir M* Wiskunde klas gegee. Ek het besluit om haar tutoriaal deur te werk wat Maandag ingegee moet word. Die klas het bietjie stadiger gegaan as wat ek gedink het dit gaan wees. Sy sukkel geweldig baie met die ‘basics’ van die probleme. Wat ek opgelet het is dat sy baie benoud raak wanneer sy nie die vraag kan beantwoord nie. Ek dink wel ons sal goed saam kan werk en ek gaan verseker baie van haar kan leer! Gelukkig sien ek haar more weer – sien uit.

No comments:

Post a Comment